Gedragskode

 

GEDRAGSKODE VIR LEERDERS VAN HOëRSKOOL DIRKIE UYS

 

 

1.INLEIDING

 

Die volgende wette dien as basis waarop die reëls en reëlings gebaseer is:

-               Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 108 van 1996

-               Suid-Afrikaanse Skolewet, 84 van 1996

-               Wes-Kaapse Provinsiale Onderwyswette.

 

2.DOEL VAN DIE GEDRAGSKODE

 

Volgens Artikel 8(2) van die SA Skolewet, 84 van 1996, is die doel van 'n gedragskode:

 

“om ‘n gedissiplineerde en doelgerigte skoolomgewing, wat toegewy is aan die instandhouding en bevordering van die leerproses, te vestig”.

 

Dit kan bereik word deur leerders op te voed om die volgende waardes – soos deur die skoolgemeenskap geïdentifiseer - uit te leef:

 

  • Integriteit
  • Respek
  • Verantwoordelikheid
  • Selfdissipline
  • Hardwerkendheid
  • Omgee

 

Die gedragskode maak voorsiening vir die regte van die individu, maar neem ook die regte van die groep in ag.  Ons erken dat die leerders (individue) hulle op die volgende regte kan beroep:

 

-               Demokratiese prosesse

-               Nie-diskriminasie en gelykheid

-               Privaatheid, respek en waardigheid

-               Nie-geweld en sekuriteit/veiligheid van persoon

-               Vryheid van uitdrukking met respek

-               Veilige skoolomgewing

-               Onderwys

 

Optrede is altyd in die beste belang van die leerder, in elke aangeleentheid wat ‘n kind raak.  (Grondwet art. 28(2)).

Geeneen van hierdie regte is egter “absoluut” nie, maar word beperk deur die regte van ander individue en van die groep.

Regte word beperk deur die voorwaarde dat dit redelikerwys uitvoerbaar moet wees.  (Grondwet art. 29(2))

Regte kan beperk word deur ‘n ander regsreël (Grondwet art. 16)

 

 

3.AANHEF

 

Hoërskool Dirkie Uys gee op basis van die Bybel, Christelike opvoeding en onderwys aan sy leerders, sodat hulle as volwassenes binne Afrikaanse kultuurverband, sowel as binne breë nasionale verband, ‘n positiewe bydrae lewer deur hul lewe en werk.

 

 

4.         GEDRAGSKODES DEUR LEERDERS ONDERSKRYF

 

Art.8 (1) (a) vereis dat alle leerders verplig word om te voldoen aan die vereistes van die gedragskode van die skool wat hulle bywoon.

 

Ek, 'n leerder van Hoërskool Dirkie Uys, besef dat onderlinge samewerking tussen my en die ander persone wat by my opvoeding en onderwys betrokke is, alleenlik suksesvol kan wees as alle partye ooreenkom oor die nastrewing van waardes en beginsels.  Die waardes wat deur die leerders van die skool nagestreef word, word vergestalt in die erekode wat hieronder uiteengesit word:

 

EREKODE

4.1       Menseregte

 

Ek is daarvan bewus dat ek oor sekere regte beskik in terme van die Grondwet en dat ander mense soortgelyke regte het.  Ek respekteer hierdie regte.  Ek erken veral die menswaardigheid en gelykheid van alle mense en onderneem om my regte so uit te oefen dat ander mense nie deur my optrede benadeel word nie.

 

4.1.1    Respek vir my opvoeders

 

Ek sal met agting en respek teenoor opvoeders optree.  Ek erken dat hulle opleiding en ervaring die leerders tot voordeel kan strek.  Daarom onderneem ek om my volle samewerking aan opvoeders te gee en altyd hoflik teenoor hulle op te tree.

 

4.1.2    Respek vir nie-onderwyspersoneel en besoekers

 

Ek sal met agting en respek teenoor administratiewe personeel, terreinwerkers en besoekers aan die skool optree.

 

4.1.3    Respek vir mede-leerders

 

            Ek sal met agting en respek teenoor mede-leerders optree.

 

4.1.4    Erkenning van multikulturaliteit en andersheid

 

Ek openbaar selfrespek, asook respek vir mede-leerders as individue met soortgelyke en/of ander ideale en doelwitte. Ek respekteer mense se andersheid en sal nie so optree dat ek ander se menswaardigheid aantas nie.

 

4.1.5    Respek vir die omgewing en skoolfasiliteite

 

Ek waardeer die terrein, skoolgeboue, klaskamerinhoud en ander fisiese geriewe wat vir ons gebruik beskikbaar gestel word.

Ek onderneem om op ‘n verantwoordelike wyse daarvan gebruik te maak,  ‘n bydrae tot die instandhouding daarvan te lewer, asook om my ouers aan te moedig om hul finansiële verpligtinge na te kom ten einde die terrein en geboue in stand te hou en te verbeter.

 

 

 

4.2           Skoolfunksionering

 

Ek aanvaar die gesag van die persone in bevel van karakterbou, orde en dissipline in die skool en sal my aan toepaslike intervensie onderwerp indien ek die reëls oortree.

 

Ek onderneem om die tydsrooster van die skool te eerbiedig deur stiptelik teenwoordig te wees by die aanvang en verdaging van die skooldag, elke periode, asook buitemuurse aktiwiteite waarby ek betrokke is.

 

Ek lê my neer by die skoolreëls vir leerdergedrag. 

Ek sal die skoolreëls ten opsigte van voorkoms en kleredrag nougeset nakom.  My skooldrag en skoolsportdrag is my trots.

 

Ek sal, uit respek en ter wille van my eie en ander se veiligheid, klaskamerreëls eerbiedig, asook gebruiksvoorskrifte vir laboratoria, werkswinkels en ander lokale nakom.

 

Ek sal betrokke wees by klaskameraktiwiteite deur my aandag en energie op die leerproses toe te spits.

 

Ek sal pligsgetrou vir assesseringsgeleenthede voorberei.  Ek sal  te alle tye eerlik wees tydens evaluering en ook oneerlikheid van ander aan die lig bring.

 

 

4.3       Buitemuurse aktiwiteite

 

Ek besef die vormingswaarde van sport, kulturele aktiwiteite, akademiese en sosiale uitstappies en sal as ‘n aktiewe deelnemer en lojale ondersteuner betrokke wees.  Ek besef die belangrikheid van ‘n netjiese voorkoms en sal toepaslike kleredrag by bovermelde dra.

 

Ek aanvaar dat skoolreëls ter wille van veiligheid, respek, goeie orde en die skool se goeie naam ook geld by enige amptelike opvoedkundige, kulturele, ontspanning- of sosiale aktiwiteit van die skool op of buite die skool se perseel.  Dieselfde geld vir waar en wanneer ek ookal my skooldrag of skoolsportdrag dra.  Ek sal meewerk om my skool se etos te bewaar en te versterk.

 

 

5.

 

5.1      Doel van reëls en reëlings

 

Reëls en reëlings word opgestel om die waardes vervat in die kodes te laat realiseer en het dus ten doel om:

 

  • Aanvaarbare versus onaanvaarbare gedrag uit te spel.
  • ‘n Veilige en positiewe leeromgewing te skep en in stand te hou.
  • Opvoedkundige doelwitte te bevorder.

 

Skoolreëls en –reëlings moet aanvaarbare en onaanvaarbare gedrag uitspel om leerders te beveilig, orde te handhaaf, misverstande uit die weg te ruim, en intervensies konsekwent toe te pas.

Onaanvaarbare gedrag is gedrag van ‘n leerder wat ‘n oortreding van een of meer van die reëls, vervat in die gedragskode, behels.  Dit is dan die soort gedrag wat ‘n negatiewe invloed het op die leerder self of op ander leerders.  Hierdie soort gedrag werk ook steurend in op die leeromgewing en die nastrewing van opvoedkundige doelwitte. Onaanvaarbare gedrag word direk gekoppel aan intervensie-maatreëls.

 

 

 

 

 

5.2      Die reëls en reëlings

 

1.DIE SKOOL SE MISSIE EN STREWE MOET NAGEKOM WORD.

 

1.1          Geen leerder mag hom/haar skuldig maak aan swak gedrag wat die goeie naam en tradisie van die Hoërskool Dirkie Uys oneer aandoen nie. Dit geld vir enige amptelike opvoedkundige, kulturele, ontspanning- of sosiale aktiwiteit van die skool op of buite die skool se perseel, asook waar en wanneer hy/sy ookal skooldrag of skoolsportdrag dra. 

1.2          Geen leerder mag inbreuk maak op die regte en pligte van ‘n leerder, personeellid of enige werker by die skool nie.

1.3          Elke leerder moet elke redelike opdrag wat uit hoofde van hulle ampspligte deur ‘n opvoeder of die hoof aan hom/haar gegee word, stiptelik nakom.

1.4          Leerders mag hul nie skuldig maak aan oneerlikheid nie.

 

 

 

2.‘n LEERDER VAN DIE SKOOL MOET DIE VOLLE SKOOLPROGRAM BYWOON ("AANWESIGHEIDSBELEID")

 

2.1          ‘n Leerder moet die skool tydens die vasgestelde skoolure stiptelik bywoon. Hy/sy moet meedoen aan al die voorgeskrewe opvoedingsprogramme, waaronder ook LO-prakties, saalbyeenkomste en dies meer.  Slegs die skoolhoof mag in uitsonderlike gevalle vrystelling verleen.  

2.2          ‘n Klasregister word elke oggend voltooi; en ‘n Periode-register word elke periode deur elke vakonderwyser voltooi.

2.3          ‘n Ouer moet die skool telefonies / per e-pos op die eerste oggend van afwesigheid inlig – met ‘n geldige verskoning.  Indien dít nie moontlik is nie, moet die leerder 'n afwesigheidsbrief op die eerste oggend na afwesigheid indien.

2.4          Gedurende eksamentye word ‘n doktersertifikaat vir afwesigheid vereis.

2.5          Geen leerder mag afwesig wees vir “tuisstudie” of na afloop van eksamens nie.  Leerders moet aanwesig wees tot op die laaste dag van elke kwartaal.  Slegs Gr. 12’s het die vergunning en dan slegs met die eindeksamen – te wete 5 dae voor hierdie eksamen, asook op nie-skryfdae en na sy/haar laaste vak.

2.6          Afwesigheid van skool of klas sonder verskoning of met ‘n ongeldige verskoning, sal deur die registeronderwyser met die ouers opgevolg word en lei tot skooldiens.

2.7          ‘n Leerder wat na die amptelike aanvangstyd by die skool opdaag, moet eers persoonlik by die sekretaresse aanmeld;  'n geelkaart voltooi;  en eers daarna by sy/haar klas aansluit.

2.8          Indien 'n leerder 'n onvermydelike afspraak in skoolure het, moet die versoekbrief reeds die vorige dag vir toestemming by die skoolhoof ingehandig word.

2.9          ‘n Leerder wat die skoolterrein voor die amptelike sluittyd wil verlaat, moet eers persoonlik by die skoolhoof of sy gemagtigde verlof kry;  en daarna 'n uittekenvorm laat onderteken deur alle onderwysers by wie hy/sy die res van die dag klas sou hê.

2.10       'n Leerder wat afwesig was, reël self met 'n maat om vir hom/haar notas te neem , en is self verantwoordelik vir die inhaal van agterstallige werk.  Onderwysers kan genader word vir ondersteuning.

2.11       'n Leerder  wat vir 10 opeenvolgende dae afwesig is sonder ‘n geldige verskoning, se naam sal van die register verwyder word.  So ‘n leerder se ouer(s) moet dan weer aansoek om toelating tot die skool doen.

 

 

 

 

 

 

3.SKOOLROETINE MOET ORDELIK VERLOOP

 

3.1          Administratiewe take – soos die terugbring van afskeurstrokies - moet getrou en stiptelik gedoen word – in die reël moet briewe wat op die Vrydag uitgaan se afskeurstrokies weer die Maandag terug wees.

3.2          Leerders gebruik die aangewese uitgange en roetes. Leerders mag nie pouses die voorste uitgange gebruik nie. Leerders mag die hoofingang slegs met toestemming gebruik.

3.3          Wanneer afkondigings buite gedoen word, moet die leerders in registerrye aantree, stil staan, stil bly en aandag gee.

3.4          As die klok vir die begin van die skooldag of einde van pouses lui, moet leerders vinnig na hul rye beweeg.

3.5          Wanneer leerders van klas verwissel, moet hulle ordelik aan die linkerkant van die stoepe langs die kortste roete of soos afgekondig beweeg.

3.6          Die Moorrees-vierkant  word tussen akademiese periodes slegs vir aantrede gebruik en  leerders beweeg slegs op die stoepe tydens klaswisseling. Die uitgang na die opslaanklasse word met klaswisseling slegs as uitgang - en nie ook as ingang nie - gebruik.

3.7          Tydens klaswisseling mag leerders die kleedkamers gebruik slegs met verlof van die  onderwyser waarheen hul op pad is - en nie van die onderwyser vanwaar hul kom nie.

3.8          Leerders verlaat gedurende periodes die klas slegs met 'n toestemmingsbriefie van die onderwyser – in die reël word leerders dus nie gedurende die eerste periode, asook die periode direk na pouses, vir toiletbesoek verskoon nie.

3.9          Voor skool, gedurende pouses en na skool mag 'n leerder of boeketas slegs met die  toestemming van die hoof of betrokke personeellid in ‘n klaskamer of die saal wees. Tasse word soggens in die rye geplaas - en nie op die stoepe nie.

3.10       Op reëndae sal spesiale maatreëls getref word i.v.m. beweging en skuiling van leerders.

3.11       Leerders beweeg flink en sonder gesels in en uit die saal, en weerhou hul van enige gesels  tydens saalbyeenkomste en met besoeke van sprekers.

3.12       Die gooi/skop/slaan van balle op so ‘n wyse dat dit ander leerders kan tref/beseer, is ontoelaatbaar - en die enigste balspele in die vierkante is "handjietennis". 

3.13       Die volgende plekke kan nie as speelterrein gebruik word nie:   Busstoor, parkeerareas, terrein voor die skool.  Leerders kan slegs gedurende eerste pouse in die pad voor die skoolhoofhuis en op die grond voor die busstoor speel.

3.14       Juniors en seniors gebruik slegs hul eie kleedkamers.

3.15       Leerders gebruik nie kleedkamers vir kuier/huiswerk doen nie. 

3.16       Leerders gebruik nie vullisdromme as sitplekke nie.

3.17       Fisieke kontak, ingesluit sit/lê op mekaar se skote,  word nie toegelaat nie.

3.18       Leerders lê nie op die speelterrein nie.

3.19       Leerders gil en skree nie op mekaar nie.

3.20       Huiswerk word getrou gedoen word.  [Versuim om huiswerk te doen word deur ‘n akademiese versuim-stelsel hanteer, wat impliseer dat leerders dieselfde dag na skool bly om die agterstallige werk te voltooi.]

 

 

4.         GOEIE KLASKAMERGEDRAG MOET TOEGEPAS WORD – ook tydens admin-periodes

 

            In die klas word die waardes van integriteit, respek, verantwoordelikheid, selfdissipline,             hardwerkendheid en omgee by wyse van die volgende kontrolelys uitgeleef:

 

4.1       Ek bly stil as ek in 'n ry buite die klas aantree.

4.2       Ek betree die klas slegs as die onderwyser toestemming / opdrag gee.

4.3       Ek sit dadelik, bly stil en haal my skryfbehoeftes uit.

4.4       Ek groet die onderwyser ordentlik terug.

4.5       Ek bly sit in my bank gedurende die periode.

4.6       Ek skryf slegs op die bord as ek toestemming het.

4.7       Ek kom slegs by die onderwyser se tafel of kaste as ek toestemming het.

 

 

4.8       Ek skryf nie op die mure, aansteekborde, plakkate of banke nie.

4.9       Ek sorg dat daar geen papiere/rommel in die klas rondlê nie.

4.10     Ek stuur/gooi nie briefies en ander artikels rond nie.

4.11     Ek gesels nie terwyl die onderwyser of mede-leerder aan die woord is nie.

4.12     Ek respekteer die onderwyser en leerders se reg tot onderrig en leer.

4.13     Ek sit regop in die klas (en lê nie op my arms nie).

4.14     Ek doen slegs die betrokke vak se huiswerk in daardie periode.

4.15     Ek kou/eet nie in die klas nie.

4.16     My selfoon word nie gesien, gebruik of aangeskakel nie.

4.17     Wanneer ‘n onderwyser of ander volwassene die klas betree, staan ek op en groet beleefd terug.

4.18     Ek teken aan die einde van die periode my huiswerk in ‘n huiswerkboek aan.

4.19     Aan die einde van die periode, nadat ek wegpak het, sit en bly ek stil sodat die onderwyser kan groet.

4.20     Ek groet die onderwyser weer ordentlik terug.

4.21     Ek staan eers op wanneer die onderwyser die opdrag gee.

4.22     Ek respekteer die reëling dat meisies die klas voor die seuns verlaat.

 

 

 

5.         SKOOL- EN PRIVAATEIENDOM MOET MET SORG HANTEER WORD

 

5.1          Geen vandalisme/beskadiging, ontsiering of besoedeling van eiendom mag plaasvind nie.  [Die koste vir vervanging van beskadigde/ gebreekte eiendom sal van die oortreder verhaal word.]

5.2          'n Leerder hou die terrein skoon deur geen rommel te strooi nie.

5.3          Grafitti op skooleiendom is ontoelaatbaar.

5.4          Departementele handboeke bly die eiendom van die skool en moet aan die skool terugbesorg word voordat ‘n leerder die skool verlaat.

5.5          Handboeke en skryfboeke moet volgens voorskrifte, teen ‘n sperdatum oorgetrek word. Leerders sal 5 dae gegun word om enige boeke wat gedurende die jaar bygevoeg word oor te trek. [Verlore departementele handboeke moet teen markwaarde deur die oortreder vervang word.]

5.6          In handboeke mag slegs potloodmerke, wat uitgevee kan word, gemaak word.

5.7          Ander persone se besittings moet gerespekteer word en mag slegs met verlof van die eienaar  gebruik word.

5.8          Toerusting van die skool mag slegs met verlof van ‘n personeellid deur ‘n leerder gebruik of verskuif word.

5.9          Kougom op die skoolperseel, by sportoefeninge en -wedstryde, asook skoolfunksies, is verbode.

5.10       Leerders moet self verantwoordelikheid vat vir die veiligheid van hul toerusting.  [Alhoewel die skool poog om leerders se besittings te beveilig, aanvaar die skool geen verantwoordelikheid vir die wegraak van leerders se besittings nie.]

5.11       Sport- en /of ander persoonlike besittings kan slegs met toestemming tydelik in 'n onderwyser se klaskamer gebêre word  -en kan nie in die kantore bewaar word nie. 

5.12       Hand- en skryfboeke word in die reël daagliks huistoe geneem vir huiswerk en hersiening, en mag slegs met die toestemming van die betrokke vakonderwyser tydelik op 'n aangewese plek in die klas gestoor word.

5.13     T.o.v. die gebruik van oudio-visuele apparaat geld die volgende:  ("OUDIO-VISUELE APPARAAT-BELEID"):

  • Leerders word ontmoedig om oudio-visuele apparaat (bv. Mp3, Ipod, ens.)  en selfone skool toe te bring. 
  • Leerders doen dit op eie risiko.
  • Dit mag GEENSINS sigbaar,  aan wees, of gebruik word in die rye, saal, tydens en tussen  periodes nie.

 

 

  • Dit mag GEENSINS in 'n leerder se besit wees in ‘n toets-/eksamenlokaal nie.
  • Dit mag voor skool, pouses, en na skool gebruik word, maar dan met oorfone sodat ander persone dit nie kan hoor nie.
  • Dit mag nie op die skoolterrein vir die neem van foto's of video-opnames gebruik word nie. Leerders kan wel vooraf toestemming kry vir spesiale dae.
  • Oortreders (selfs al is dit "per ongeluk" se selfone/apparaat sal gekonfiskeer word en in die kluis vir 2 maande bewaar word. 
  • Indien die toerusting vir opvoedkundige doeleindes gebruik word - byvoorbeeld vir 'n mondeling  - moet vooraf toestemming by die betrokke

vakonderwyser verkry word;  moet die toerusting by die sekretaresse bewaar word en net vir die spesifieke doel gaan haal en gebruik word.

 

 

6.DIE SEKURITEIT EN VEILIGHEID VAN SELF, ANDER ENSKOOL MOET GEHANDHAAF WORD

 

6.1          'n Leerder mag nie ‘n gevaarlike voorwerp (soos gedefinieer in die onderwyswet en wat neerkom op enige springstof, toestel, wapen of voorwerp wat gebruik kan word om ‘n persoon liggaamlike leed aan te doen of eiendom te beskadig) in sy besit hê of gebruik tydens skoolure of by enige amptelike opvoedkundige, kulturele, ontspanning- of sosiale aktiwiteit van die skool op of buite die skool se perseel nie.  Dieselfde geld vir waar en wanneer die leerder ookal skooldrag of skoolsportdrag dra. 

6.2          'n Leerder mag nie onder die invloed van alkohol of enige onwettige dwelmmiddels (soos gedefinieer in die onderwyswet en wat neerkom op enige stof wat ‘n sielkundige of fisiologies uitwerking het) wees nie of dit in sy/haar besit hê tydens skoolure of by enige amptelike opvoedkundige, kulturele, ontspanning- of sosiale aktiwiteit van die skool op of buite die skool se perseel nie. Dieselfde geld vir waar en wanneer die leerder ookal skooldrag of skoolsportdrag dra. 

6.3          'n Leerder mag nie enige vorm van sigarette/tabakprodukte/aanstekers/vuurhoutjies gebruik of in sy/haar besit hê tydens skoolure of by enige amptelike opvoedkundige, kulturele, ontspanning- of sosiale aktiwiteit van die skool op of buite die skool se perseel nie.  Dieselfde geld vir waar en wanneer die leerder ookal skooldrag of skoolsportdrag dra. 

6.4          Leerders mag hul motorfietse by die Heuwelstraat ingang in- en uitry, maar nie verder op die 

skoolterrein ry as die aangewese parkeerarea teen Heuwelstraat nie. Leerders mag nie motors op die skoolterrein bestuur of parkeer nie. 

6.5          'n Leerders wat aangedui het dat hy/sy ‘n betrokke rit van skoolvervoer gebruik gaan maak, se  naam word op ‘n amptelike buslys geplaas en sodanige leerder moet vooraf die toesighoudende onderwyser inlig indien sy/haar vervoerreëlings verander. 

6.6          Gevaarlike spele, bakleiery of enige optrede waardeur iemand beseer kan word, is verbode.

6.7          'n Leerders mag nie ‘n mede-leerder, personeellid of werker by die skool, se liggaamlike, geestelike of sielkundige welsyn benadeel of in gevaar stel nie.  Enige vorm van boelie is ontoelaatbaar. 

6.8          Leerders mag hulle nie skuldig maak aan ontwrigtende gedrag, arrogansie, dreigemente of opstokery nie.

6.9          Geen vorm van rassisme of haatspraak word toegelaat nie.

6.10       Leerders mag nie vloektaal gebruik nie.

6.11       Leerders mag hul nie aan naamskending skuldig maak nie.          

6.12       Leerders mag hul nie aan enige vorm van oneerlikheid / diefstal / korrupsie skuldig maak nie.

6.13       Leerders mag nie deel hê aan enige vorm van pornografie of seksuele teistering nie.

6.14       Leerders mag nie betrokke wees by bendeaktiwiteite of smokkelhandel nie.

6.15       Leerders mag geen vorm van Satanisme beoefen nie.

6.16       Leerders mag hul nie skuldig maak aan enige kriminele / strafregterlike oortreding nie.

 

 

 

 

 

 

7.     DIE VOORKOMS VAN LEERDERS MOET ALTYD GEPAS WEES

 

Selfrespek en respek word onder andere deur ‘n mens se voorkoms bepaal en om hierdie rede word gepoog om deur eenvormigheid daartoe by te dra.  Slegs die voorgeskrewe skooldrag is toelaatbaar.  Privaatklere, -serpe, -musse/-pette, -skoene vorm nie deel van die skooldrag nie en mag daarom nie met skoolklere gemeng word nie.

 

       [Verskaffer van skool- en sportdrag:  Klerebank – op die skoolterrein (Tel.022 433 2253)]

7.1.      SKOOLDRAG VIR SEUNS (By klerebank beskikbaar)

 

SOMER (Eerste, tweede en vierde kwartaal)

  • Wit kortmouhemp.  Geen deel van ‘n onderhemp/frokkie of T-hemp mag egter uitsteek nie.Hemde moet te alle tye ingesteek wees, dit mag nie omgevou word of uithang nie.
  • Grys skoollang- of kortbroek.
  • Lyfgordels moet te alle tye by langbroeke gedra word en moet om die “middel” van die  lyf vasgemaak word.  Slegs bruin en swart lyfgordels, sonder handelsmerk gespes (“buckles”), word toegelaat.
    • Voorgeskrewe grys skoolkouse.
    • Swart gladde leer toeryg-skoolskoene - nie skerppuntskoene, stewels of skoene met gespes / gekleurde stiksels nie. Skoene moet skoongemaak en gepolitoer wees.
    • Navy Dirkie Uys-oortrektrui (“pull over”) mag alleen of onder die Navy Dirkie Uys-langmoutrui (eersgenoemde mag nie uitsteek nie) en/of die skoolbaadjie gedra word.
    • Navy Dirkie Uys-langmoutrui mag alleen of bo-oor die Navy Dirkie Uys-oortrektrui (“pull over”) (laasgenoemde mag nie uitsteek nie) of onder die skoolbaadjie gedra word. Langmoutruie mag nie oor die hande getrek word nie.
    • Oortrektruie en langmoutruie mag sonder die baadjie gedra word,  maar die skoolbaadjie MOET op Maandae gedurende die tweede tot vierde kwartaal met saalopening gedra word.
    • Die moue van die langmoutrui of baadjie mag nie opgestoot word nie.
    • 'n Skoolbaadjie mag sonder 'n oortrektrui en/of langmoutrui gedra word.
    • Leerders wat erekleure verwerf het, dra die erekleure-baadjie.
    • Graad 12 leerders mag die matriektop slegs op Vrydae dra.
    • Geen handskoene mag in die somer gedra word nie.
    • Die dra van musse en hoede word nie toegelaat nie.

 

 

WINTER (Einde van tweede kwartaal en derde kwartaal)

  • Wit langmou-dashemp.  Hemde moet te alle tye ingesteek wees, dit mag nie omgevou word of uithang nie.
    • Voorgeskrewe skooldas. ‘n Das moet te alle tye saam met 'n langmouhemp gedra word, die boonste knoop moet te alle tye vas wees en die dasknoop tot bo geskuif wees.
    • Grys skoollang- of kortbroek.
    • Lyfgordels moet te alle tye by langbroeke gedra word en moet om die “middel” van die  lyf vasgemaak word.  Slegs bruin en swart lyfgordels, sonder handelsmerk gespes (“buckles”), word toegelaat.
    • Voorgeskrewe grys skoolkouse.
    • Swart gladde leer toeryg-skoolskoene - nie skerppuntskoene, stewels of skoene met gespes / gekleurde stiksels nie. Skoene moet skoongemaak en gepolitoer wees.
      • Navy Dirkie Uys-oortrektrui (“pull over”) mag alleen of onder die Navy Dirkie Uys-langmoutrui (eersgenoemde mag nie uitsteek nie) en/of die skoolbaadjie gedra word.

 

 

  • Navy Dirkie Uys-langmoutrui mag alleen of bo-oor die Navy Dirkie Uys-oortrektrui (“pull over”) (laasgenoemde mag nie uitsteek nie) of onder die skoolbaadjie gedra word.

Langmoutruie mag nie oor die hande getrek word nie.

  • Oortrektruie en langmoutruie mag sonder die baadjie gedra word,  maar die skoolbaadjie MOET op Maandae gedurende die tweede tot vierde kwartaal met saalopening gedra word.
  • Die moue van die langmoutrui of baadjie mag nie opgestoot word nie.
  • 'n Skoolbaadjie mag sonder 'n oortrektrui en/of langmoutrui gedra word.
  • Leerders wat erekleure verwerf het, dra die erekleure-baadjie.
  • Graad 12 leerders mag die matriektop slegs op Vrydae dra.
  • Skoolserp is opsioneel. Slegs die voorgeskrewe donkerblou skoolserpe mag in die winter gedra word – die dra van ‘n skooldas en skoolbaadjie bly verpligtend indien serpe gedra word.
  • Slegs navy volvinger handskoene mag saam met wintersdrag gedra word.
  • Die dra van musse en hoede word nie toegelaat nie.

 

 

 

7.2.      SKOOLDRAG VIR MEISIES (By klerebank beskikbaar)

SOMER (Eerste, tweede en vierde kwartaal)

  • Wit kortmouhemp.  Geen deel van ‘n onderhemp/frokkie of T-hemp mag egter uitsteek nie.Hemde moet te alle tye ingesteek wees, dit mag nie omgevou word of uithang nie.
    • Navy platplooi-skoolromp OF Navy langbroek. Die rompies se lengte moet ten minste in die helfte van die bo-been eindig, dit mag nie opgerol word by die middellyf nie.
    • Meisies moet te alle tye goeie smaak aan die dag lê en toesien dat kledingstukke nie te styf of kort vertoon en derhalwe ‘n verleentheid skep nie.
    • Wit enkelsokkies indien die skoolromp gedra word.
    • Navy of swart  sokkies indien die langbroek gedra word.
    • Swart gladde leer toeryg-skoolskoene of skoolskoene met bandjie.  Skoene moet skoongemaak en gepolitoer wees.
    • Navy, swart of bruinhaarrekkies, linte en haarknippies.
    • Navy Dirkie Uys-oortrektrui (“pull over”) mag alleen of onder die Navy Dirkie Uys-langmoutrui (eersgenoemde mag nie uitsteek nie) en/of die skoolbaadjie gedra word.
    • Navy Dirkie Uys-langmoutrui mag alleen of bo-oor die Navy Dirkie Uys-oortrektrui (“pull over”) (laasgenoemde mag nie uitsteek nie) of onder die skoolbaadjie gedra word.

Langmoutruie mag nie oor die hande getrek word nie.

  • Oortrektruie en langmoutruie mag sonder die baadjie gedra word,  maar die skoolbaadjie MOET op Maandae gedurende die tweede tot vierde kwartaal met saalopening gedra word.
  • Die moue van die langmoutrui of baadjie mag nie opgestoot word nie.
  • 'n Skoolbaadjie mag sonder 'n oortrektrui en/of langmoutrui gedra word.
  • Leerders wat erekleure verwerf het, dra die erekleure-baadjie.
  • Graad 12 leerders mag die matriektop slegs op Vrydae dra.
  • Geen handskoene mag in die somer gedra word nie.
  • Die dra van musse en hoede word nie toegelaat nie.

 

 

WINTER (Einde van tweede kwartaal en derde kwartaal)

  • Wit langmou-dashemp.  Hemde moet te alle tye ingesteek wees, dit mag nie omgevou word of uithang nie.
    • Voorgeskrewe skooldas. ‘n Das moet te alle tye saam met 'n langmouhemp gedra word, die boonste knoop moet te alle tye vas wees en die dasknoop tot bo geskuif wees.

 

 

 

  • Navy platplooi-skoolromp OF Navy langbroek. Die rompies se lengte moet ten minste in die helfte van die bo-been eindig, dit mag nie opgerol word by die middellyf nie.
  • Meisies moet te alle tye goeie smaak aan die dag lê en toesien dat kledingstukke nie te styf of kort vertoon en derhalwe ‘n verleentheid skep nie.
  • Lang swart skoolkouse indien die skoolromp gedra word. Indien sokkies onder kouse gedra word, mag dit nie deurskyn nie.
  • Navy of swart sokkies indien die langbroek gedra word.
  • Swart gladde leer toeryg-skoolskoene of skoolskoene met bandjie. Skoene moet skoongemaak en gepolitoer wees.
    • Navy, swart of bruin haarrekkies, linte en haarknippies.
    • Navy Dirkie Uys-oortrektrui (“pull over”) mag alleen of onder die Navy Dirkie Uys-langmoutrui (eersgenoemde mag nie uitsteek nie) en/of die skoolbaadjie gedra word.
    • Navy Dirkie Uys-langmoutrui mag alleen of bo-oor die Navy Dirkie Uys-oortrektrui (“pull over”) (laasgenoemde mag nie uitsteek nie) of onder die skoolbaadjie gedra word.

Langmoutruie mag nie oor die hande getrek word nie.

  • Oortrektruie en langmoutruie mag sonder die baadjie gedra word,  maar die skoolbaadjie MOET op Maandae gedurende die tweede tot vierde kwartaal met saalopening gedra word.
  • Die moue van die langmoutrui of baadjie mag nie opgestoot word nie.
  • 'n Skoolbaadjie mag sonder 'n oortrektrui en/of langmoutrui gedra word.
  • Skoolserp is opsioneel. Slegs die voorgeskrewe donkerblou skoolserpe mag in die winter gedra word – die dra van ‘n skooldas en skoolbaadjie bly verpligtend indien serpe gedra word.
  • Leerders wat erekleure verwerf het, dra die erekleure-baadjie.
  • Graad 12 leerders mag die matriektop slegs op Vrydae dra.
  • Slegs navy volvinger handskoene mag saam met wintersdrag gedra word.
  • Die dra van musse en hoede word nie toegelaat nie.

 

 

7.3.      SKOOLTASSE

  • Die voorgeskrewe skooltasse en rugsakke is by die verskaffer beskikbaar.
  • Skooltasse moet stewig wees om boeke te beskerm.  ‘n Tas moet op sy eie kan staan wanneer dit leeg is.
  • Slegs die leerder se naam (maks.  5cm x 10cm) mag geskryf op die buitekant van die tas of met 'n naamkaartjie-sleutelhouer aangebring word.
  • Geen ander aanhangsels, motiewe of graffiti word toegelaat nie.

 

7.4.      DRAG VIR LIGGAAMLIKE OPVOEDING (Praktiese komponent van Lewensoriëntering)

  • Blou of wit kortbroekie.
  • Fietsry- of ski-broekie slegs onder LO-broekie/-rompie.
  • Dirkie Uys-sporthemp.
  • Sportskoene en kort wit, sokkies (opsioneel)
  • Skoolsweetpak (opsioneel)

 

 

 

7.5.       DRAG VIR SPORT

          ATLETIEK

  • Skool-atletiekfrokkie.
    • Donkerblou LO-broekie.
    • Kort, wit sokkies.

 

              TENNIS

  • Dirkie Uys-sporthemp.
  • Moulose Dirkie Uys-sporthemp ( vir die dogters).
  • Donkerblou LO-broekie vir die seuns.
  • Navy rompie vir die dogters.
  • Kort, wit sokkies.

  

              KRIEKET                                                   

  • Dirkie Uys-sporthemp vir al die spanne behalwe die eerste span.
  • Wit langbroek.
  • Wit sokkies.
  • Wit skoene.

             

              GHOLF

  • Amptelike skool-gholfhemp.
  • Eenvormige kleur lang- of kniebroek.
  • Eenvormige kleur sokkies.
  • Gholfskoene

 

              RUGBY

  • Skool-rugbytrui.
  • Wit rugbybroek.
  • Skool-rugbykouse.
  • Rugbystewels

             

              HOKKIE (MEISIES)                                  

  • Moulose Dirkie Uys-sporthemp.
  • Navy hokkieromp.
  • Skool-hokkiekouse.
  • Hokkieskoene                                       

 

              HOKKIE (SEUNS)

  • Dirkie Uys-sporthemp.
  • Donkerblou LO-broekie.
  • Skool-hokkiekouse.
  • Hokkieskoene

 

 

 

 

              NETBAL

  • Moulose Dirkie Uys-sporthemp.
  • Navy netbalromp.
  • Kort, wit sokkies.
  • Sportskoene.

 

 

 

7.6       ALGEMENE VOORKOMS VIR SEUNS

 

7.6.1                HARE

  • Hare moet netjies kort geknip wees.
  • Direk om die ore moet dit skoon wees – die hare mag nie die ore raak nie, ook nie hare wat weggekam word nie.
  • Die nek moet skoon geknip wees en die haarlyn mag nie die kraag raak in ‘n "normale staan-houding" nie.
  • Die hare mag nie gekam word om regop gedra te word nie. 
  • Die hare moet egalig skuins gesny word sodat dit nie twee duidelik-verskillende  lengtes langs mekaar of 'n rif vorm nie.
  • Die kuif mag nie die wenkbroue raak nie - ook nie wanneer dit af gekam word nie.
  • Die gebruik van jel of derglike middels, sowel as 'n “wetlook” word nie toegelaat nie.
  • Enige vorm van haarkleur of “high lights” word nie toegelaat nie.  
  • Hierdie reëls geld ook vir spesiale geleenthede/dae  - soos matriekafskeid, danse,  wanneer leerders gewone klere mag aantrek -  asook vir sportgeleenthede.

 

7.6.2                BAARD EN SNOR

  • Seuns wat skeer of baard het, moet elke dag skoon, glad en netjies geskeer wees.
  • Wangbaarde (“sidewhiskers”) mag nie verder as die middel van die oorgat strek nie.
  • Geen stoppelbaard of snorre word toegelaat nie.
  • [LW:  Seuns wat nie geskeer is nie, sal versoek word om by die skool te skeer en moet  vir die gebruik van ‘n weggooi-skeermes betaal.]

 

7.6.3                NAELS

  • Naels moet kort en netjies versorg wees.
  • Geen naellak word toegelaat nie.

 

7.6.4                GRIMERING

  • Geen tydelike of permanente grimering word toegelaat nie.

 

7.6.5                TATOEËERMERKE

  • Die dra van enige vorm van tatoeëermerke is ontoelaatbaar.
  • Bestaande tatoeëermerke mag nie sigbaar wees of onder enige kledingstuk uitsteek nie.

 

7.6.6                JUWELE

  • Slegs polshorlosies word toegelaat;  geen hangertjies, juwele of enige tipe armband  word toegelaat nie.
  • Geen oorringetjies, -pennetjies, vislyn word in enige plek in die oor toegelaat nie.
  • Geen neus-, tong-, wenkbrou- of oorringe  word toegelaat nie.
  • Geen juweliersware word by sportdrag toegelaat nie.

 

 

 

 

 

 

7.7       ALGEMENE VOORKOMS VIR MEISIES

 

7.7.1                HARE

  • Style wat nie volgens die reëls hanteer kan word nie, mag nie gedra word nie.  Dit sluit alle onkonvensionele style in soos hare wat aan die een kant korter is, ens.
  • Die kuif mag nie die wenkbroue raak nie.  Lang kuiwe moet netjies vasgesteek word of met ‘n navy of swart “Alice band” of kopband wat nie wyer as 3 cm is nie, in posisie gehou word.
  • Kort hare mag nie die onderste gedeelte van die kraag raak nie.  Lang hare of hare wat aan die kraag raak, moet vasgebind wees of in ‘n poniestert vasgemaak word.  Gewone knippies of bruin kammetjies mag gebruik word.
  • Hare aan die kante wat oor die ore hang, moet vasgesteek word.  Dit geld ook vir hare aan die agterkant wat stewig vasgemaak of vasgesteek moet wees.
  • Hare mag geensins in slierte of in die gesig hang nie.
  • Geen haarkleure of “high lights”word toegelaat nie - ook nie met danse/matriekafskeide nie.
  • Hare moet natuurlik vertoon en mag nie “getease”, “gejel” of ‘n “wet look” hê nie.
  • Insetsels  en “weaves” mag op die volgende voorwaardes gedra word:
  1. oDit moet dieselfde kleur as die natuurlike kleur wees.
  2. oDit moet natuurlik vertoon en nie as insetsel sigbaar wees nie.
  3. oDit mag nie as “dread locks”,  toutjies gedra word nie.
  4. oDit mag nie in ‘n onkonvensionele styl gedra word nie. (bv. te veel insetsels wat die hare onnatuurlik dik laat vertoon nie.)
  • Hierdie reëls geld ook vir sportgeleenthede.

 

 

7.7.2                HARE-VASMAAKBYKOMSTIGHEDE

  • Slegs een kleur knippie, kammetjie, lint, “Aliceband” of kopband wat nie wyer as 3 cm is nie, mag op ‘n slag gebruik word.  Die voorgekrewe kleure is navy, swart of bruin.

 

7.7.3                NAELS

  • Naels mag nie verby die vingerpunte steek nie.
  • Slegs kleurlose naellak mag saam met skool- of sportdrag gedra word.
  • Geen kunsnaels word toegelaat nie.

 

7.7.4                GRIMERING

  • Geen tydelike of permanente grimering word toegelaat nie.

 

7.7.5               TATOEËERMERKE

  • Die dra van enige vorm van tatoeëermerke is ontoelaatbaar.
  • Bestaande tatoeëermerke mag nie sigbaar wees of onder enige kledingstuk uitsteek nie.

 

7.7.6                JUWELE

  • Slegs een oorring / -knoppie  word in die onderste gaatjie van die oorbel toegelaat.
  • Slegs goue of silwer ringetjies of knoppies (“stud”) word toegelaat.  Die ringetjies se diameter mag nie meer as 1,5 cm wees nie.
  • Geen seëlringe, hangertjies of enige tipe armband word toegelaat nie.
  • Geen neus-, tong-, wenkbrou- of oogringe word toegelaat nie.
  • Geen oor-pennetjies of vislyn word in enige plek in die oor toegelaat nie.
  • Geen juweliersware word by sportdrag toegelaat nie.

 

 

 

8.         LEERDERS MOET DIE VERPLIGTINGE EN ORDEREëLS VAN DIE SKOOL SE BUITEMUURSE PROGRAM NAKOM

 

8.1       Wanneer ‘n leerder by enige buitemuurse bedrywighede aansluit, onderwerp hy/sy  hom/haar aan die verpligtinge en ordereëls van die bedrywigheid.

8.2       Vrystelling van verpligtinge kan alleenlik verkry word as betyds vooraf onderhandel word en verlof daartoe deur die betrokke afrigter verleen word.

8.3       Stiptelikheid by buitemuurse aktiwiteite word te alle tye van leerders verwag.

8.4       Daar word van leerders verwag om, waar enigsins moontlik, by minstens 1 buitemuurse aktiwiteit in die somer en 1 in die winter betrokke te wees.

8.5       Leerders mag hulle nie skuldig maak aan onsportiewe gedrag of ontoelaatbare spel nie;  van die veld/baan gestuur word nie;  of 'n verleentheid vir sy/haar span/skool wees nie. 

 

 

 

6.     GRADERING VAN OORTREDINGS

 

Gedragsoortredings:

 

Graad 1:

Oortree basiese klaskamerreëls

Laat vir klasse / skool

Geen brief /oproep met afwesigheid

Nie-nakoming van admin-take

Voorkoms nie korrek

Reël oor selfoon- / oudio-visuele apparaat oortree

Op verbode terreine / areas

Kougom op skoolterrein

Rommelstrooi

Fisieke kontak / onbetaamlike gedrag

Steurnis tydens saalbyeenkomste / afkondigings

Raas met klaswisseling

Beweeg nie op stoepe tydens klaswisseling

In kleedkamers sonder toestemming

Graffiti op liggaam / klere / tas

Handboeke verniel

Nie opgedaag vir oefening 

Enige ander soortgelyke oortreding

 

Graad 2:

Arrogansie

Ontwrigtende gedrag

Weiering om opdragte uit te voer

Dreigemente

Baklei / gevaarlike spele

Boelie

Opstokery

Selfaangedrewe voertuie op terrein bestuur

Graffiti op skool- / ander se eiendom

Stokkiesdraai

Nie opgedaag vir wedstryde

Vloektaal

Peuter met ander se eiendom

Ongemagtigde gebruik van skooleiendom

Enige ander soortgelyke oortreding

 

 

(Die onderwyser kan aan die leerder die ”rooikaart” gee SLEGS in gevalle waar gedrag so ontwrigtend is dat onderrig nie met die leerder in klas kan voortgaan nie – en nie vir ander hanteerbare oortredings nie!   ‘n Rooikaarte word dus slegs in uiterste gevalle gegee. 

In so ‘n geval word die leerder na die graadhoof gestuur onder wie se toesig hy/sy vir die res van die periode moet bly.  Let daarop dat leerders nie uitgestuur mag word om op die stoep te gaan staan nie)

 

 

Graad 3:

Blatante ondermyning / uitdaging van gesag

Gevaarlike voorwerpe besit, hanteer, gebruik, verhandel

Alkohol, onwettige dwelms, sigarette/tabak besit, hanteer, gebruik, verhandel

Aanranding

Inlywing / “doop” / oriëntering

Rassistiese taal

Naamskending

Diefstal

Oneerlikheid

Vandalisme

Bomdreigemente

Brandstigting

Moord

Inbraak

Pornografie

Seksuele teistering / wandade

Satanisme

Bendebedrywighede

Smokkel

Kriminele oortredings

Enige ander soortgelyke oortreding

 

 

 

7.      DEURSOEKING, BESLAGLEGGING, TOETSING:

   GEVAARLIKE VOORWERPE EN ONWETTIGE DWELMMIDDELS

 

Ter wille van leerders se veiligheid gee die wet toestemming dat bogenoemde gedoen mag word.

Die skool handel streng volgens die 2007-invoeging van artikel 8A in Wet 84 van 1996 en die gestipuleerde protokol. 

 

 

 

8.         VEREISTES VIR INTERVENSIES [TUGMAATREëLS]

 

    • Regverdigheid
    • Redelikheid
    • Wetlike toelaatbaarheid
    • Inagneming van ouderdom en psigiese en fisieke toestand van die leerder
    • Bewyse van intervensie moet altyd beskikbaar wees
    • Ouer moet ingelig wees

 

 

 

 

9.         PROSEDURE:   GEELKAART,  “ROOIKAART”  EN  SKOOLDIENS

 

Elke onderwyser het ‘n klompie geelkaarte (Sien addendum)

Sodra ‘n gr.1- of 2-gedragsoortredings plaasvind, moet die onderwyser en die betrokke leerder ‘n geelkaart voltooi.

 

(Die onderwyser kan aan die leerder die ”rooikaart” gee SLEGS in gevalle waar gedrag so ontwrigtend is dat onderrig nie met die leerder in klas kan voortgaan nie – en nie vir ander hanteerbare oortredings nie!   ‘n Rooikaarte word dus slegs in uiterste gevalle gegee. 

In so ‘n geval word die leerder na die graadhoof gestuur onder wie se toesig hy/sy vir die res van die periode moet bly.  Let daarop dat leerders nie uitgestuur mag word om op die stoep te gaan staan nie)

 

Die onderwyser bring egter ‘n gr.3-gedragsoortreding dadelik onder die karakterbou-hoof se aandag.

Vir ‘n gr.3-oortreding kan ‘n leerder direk saam met sy/haar ouers voor die dissiplinêre komitee van die SBL verskyn, met die oog op ernstige intervensie soos berading/skorsing/uitsetting, ens.

 

 

Alle geelkaarte word daagliks deur onderwysers in die betrokke graadhoof se houer in die personeelkamer geplaas.

Vrydae gaan die graadhoof sy/haar pakkie geelkaarte deur en as ‘n leerder:

  • Ø3 geelkaarte vir gr.1- oortredings het, of
  • Ø1 geelkaart vir ‘n gr. 2 –oortreding het,

voltooi die graadhoof vir daardie leerder ‘n Skooldiensbrief. (Sien addendum)

(Die graadhoof kram geelkaarte agteraan die Skooldiensbrief)

Graadhoofde maak dan afskrifte van al sy/haar graad se Skooldiensbriewe en deel hierdie afskrifte Vrydagmiddag aan die betrokke leerders uit.

 

Die oorspronklike Skooldiensbrief (met gekramde geelkaarte) word in die Skooldienslêer geplaas.  Graadhoofde moet ‘n lysie  van die betrokke graad se leerders wat op skooldiens is,  bo-op sy graad se skooldiensvorms invoeg.

 

Die leerder en sy/haar ouer moet die afskrif teken en eersgenoemde MOET dit Maandag-oggend in admin-periode aan die graadhoof terugbesorg.

(Graadhoofde maak seker dat handtekeninge nie vervals is nie)

Die graadhoof kram Maandae 1ste pouse die getekende kopie van elke leerder bo-op die oorspronklike Skooldiensbrief in die Skooldienslêer vas.

 

Skooldiens vind volgens 'n rooster (die karakterbou-hoof is hiervoor verantwoordelik) plaas op 'n Maandagmiddag vanaf direk na skool tot 16:00.

Skooldiens kry voorkeur en derhalwe moet diegene wat buitemuurse verpligtinge het die vorige Vrydag onmiddelik as hy/sy die skooldiensvorm kry, by sy/haar afrigters(s) verskoning maak.

 

Personeel op skooldiens neem Maandagmiddag hierdie Skooldienslêer.

Leerders word besig gehou met skoonmaak-aktiwiteite (bv. banke skuur; vloere/vensters was; vee; hark; rommel optel; onkruid uittrek, ens.) soos deur die karakterbou-hoof bepaal.  Gedurende eksamentye moet leerders boeke saambring, aangesien skooldiens dan die vorm van studie (2 ure vanaf direk na skool) aanneem.

 

Personeel op skooldiens laat leerders eers na afloop van Skooldiens teken, en plaas dan die lêer Dinsdagoggend terug in die personeelkamer.

Graadhoofde moet Dinsdae afgehandelde skooldiensvorms uithaal en  liasseer in sy/haar graad se Karakterbou-lêer.  Hy/sy teken ook alle skooldiensbriewe op die betrokke graad se Gedragsintervensie-register (klaslys vir elke klas in sy/haar graad) in hierdie Karakterbou-lêer aan.

 

 

 

 

10.       DISSIPLINêRE VERGADERINGS  EN -VERHORE

 

Die skool het – danksy elke graad se Gedragsintervensie-register ‘n volledige beeld van al die oortredings.

Die graadhoof sal ouers telefonies skakel as sy/haar kind ‘n 2de skooldiens ontvang.

Die graadhoof sal die karakterbou-hoof inlig sodra ‘n leerder ‘n 3de skooldiens ontvang het.

Die graadhoof reël dan telefonies – en dan opgevolg met ‘n standaardbrief – vir ‘n dissiplinêre vergadering. Dit vind in die skoolhoof se kantoor plaas en die skoolhoof, karakterbou-hoof en graadhoof vergader dan met die leerder en sy/haar ouers.

 

Die skoolhoof en karakterbou-hoof sal die leerder en sy/haar ouer skriftelik versoek om vir ‘n dissiplinêre verhoor voor die dissiplinêre komitee van die SBL te verskyn, met oog op ernstige intervensie soos berading/skorsing/uitsetting i.g.v.:

  • Ø‘n verdere skooldiens ná ‘n dissiplinêre vergadering
  • Ø‘n graad 3-gedragsoortreding

 

Ten einde ‘n billike verhoor te verseker, sal die basiese ondersoek-, aanklag en strafprosedure soos teenwoordig by ‘n dissiplinêre verhoor, geld.   Die leerder sal ook ingelig word van strukture vir berading en aangeraai word om daarvan gebruik te maak.

 

 

 

11.       SLOT

 

Die reëls en reëlings vervat in hierdie gedragskode is gebou op die skool se kernwaardes -  integriteit, respek, verantwoordelikheid, selfdissipline, hardwerkendheid en omgee - en daar moet te alle tye deur almal betrokke by die skool gepoog word om hierdie waardes te respekteer en uit te bou.

 

Die gedragskode word jaarliks deur die VRL, personeel en SBL hersien, en daarna deur die SBL – dus verteenwoordigers van die leerders, onderwysers en ouers  –  goedgekeur.                                                               Dit is in belang van al hierdie partye dat die gedragskode verantwoordelik en konsekwent toegepas word.

 

 

 

BYLAE:


Geelkaart

Skooldiens

Breadcrumbs