OOV Verslag
2011
Hiermee
‘n opsomming van die fondsinsameling aktiwiteite van die OOV van
die Hoërskool Dirkie Uys vir die jaar 2011.
- Kleure-atletiekbyeenkoms
by die Gene Louw Sportgronde: wins R8 920.84
- (2010:
R8544.53).
- Wes-Boland
atletiekbyeenkoms by Gene Louw Sportgronde: wins R19513.86 (2010:
R13933.53). Die probleme met die sekuriteitsmense bleik iets van
die verlede te wees.
- Kleure
swemgala by die munisipale swembad: wins R3419.09.
- Tydens
die jaarlikse HDU Gholfdag in Maart, bied die OOV ‘n ondersteunende
rol aan die bemarker in die vorm van die broodtafel wat heeldag
behartig word. Wins: R51228.22
(2010: R32212.24).
- Die
Sportdag word by beide Gene Louw Sportgronde en HDU aangebied.
Wins: R1398.85 (2010: R25276.36). Wat fondsinsameling aanbetref, was vanjaar
se Sportdag ondoeltreffend. Die
kleiner geleenthede het egter gehelp om gesamentlik ‘n goeie winsie
te realiseer, t.w. sportgeleenthede teen Grootte Schuur, Montana
en die landloop-byeenkoms. Wins:
R9356.29.
Die Interskole is vanjaar op Moorreesburg
aangebied. Met die “Big Brag”
op 19 Augustus is toebroodjies en “hot chocolate” verkoop. Die skool se snoepie het ook vanjaar oopgemaak
en kon die insameling dus gedeel word. Wins: R9356.29.
Op 29 Oktober 2011 vind die Top 10 atletiekbyeenkoms
plaas en dit beloof om ‘n groot geleentheid met baie besoekers te
wees. Die OOV hoop om hul
bedrywighede op ‘n hoë noot af te sluit deur op die 2010 wins van
R14 572.60 te verbeter.
Die OOV is weer eens deur die Veteraan
Trekkerklub van die Wes-Kaap genader om ‘n snoepie en middagete
aan te bied by ‘n oesdag wat op 3 Desember vanjaar by die Koringbedryfmuseum
op die dorp aangebied word. Ná
die sukses van die veterane trekkerskou in Augustus
2010, gryp ons die geleentheid met ope arms aan en sien ons
daarna uit om ‘n stewige wins te maak op die dag.
Die totale wins vir 2011 beloop R100
038.22, sonder die Top 10 byeenkoms en Oesdag se winste, maar wel
Gholfdag ingesluit (2010: R120235.53, gholfdag en Top 10 ingesluit).
Ouerbetrokkenheid ten opsigte van hulp
by bedieningspunte raak met die verbygaan van die jare al hoe minder.
Teen die middel van die jaar is dit duidelik dat daar net ‘n paar
ouers is wat die stryd om ekstra fondse wil stry en by sommige geleenthede
is daardie hande eenvoudig nie genoeg nie en moet ‘n paar ouers
werklik alleen die wa deur die drif sleep.
Dit bly ‘n bron van kommer dat ouers so onbetrokke staan
teenoor die pogings van die OOV om addisionele fondse in te samel
vir HDU. In 2011 was daar
slegs 6 lede op die komitee, maar daar is steeds gepoog om die bedrag
aan inkomste te verhoog of dan ten minste te ewenaar. My opregte dank aan die komitee van Dewald Bronkhorst,
Jeantte Coetzer, Ilsé Hanekom, Helain Mostert en Hermien Taljaard. ‘n Besondere woord van dank gaan aan Sandra Bronkhorst
en Lizelle Kitshoff wat ook by elke geleentheid betrokke was.
Die ideale aantal ouers op die OOV is
11, een ouer per klas. Hierdie
verteenwoordigers sal in die toekoms aangewys moet word indien HDU
dieselfde manier van doen wil handhaaf. Besoekers by HDU se sportgeleenthede
moet immers iets gebied word en sal dié diens waarskynlik uitgekontrakteer
moet word aan belangstellendes indien die ouerkorps nie na vore
kan kom om die snoepie te fasiliteer nie.
In daardie geval sal die skool slegs ‘n persentasie van die
wins ontvang, waar 100% van die wins met ‘n OOV-stelsel in die skool
se koffers beland.
Deur die jaar is daar persone wat deurlopend
optimisties bly teenoor die saak van die OOV en wat werklik ‘n spesiale
woord van dank verdien. Mnr
Albie Koch, wat altyd gewillig is om heen en terug met die voorraad
na die sportgronde, of waar ookal dit benodig word, te ry, asook
sy helper Jan. Marnelle Weber is ons onontbeerlike skakel met
die skool. Wanneer korrespondensie
moet uit of die briefies en bestanddele begin instroom, laat sy altyd flink weet dat daar nog jellie
of eiers by haar in die kantoor staan.
Tossie van Heerden sorg dat die boeke klop en is baie hulpvaardig
in alle sake wat die OOV se finansies behels.
Hanette Groenewald het tot en met haar vertrek by HDU alles
in haar vermoë gedoen om die taak van die OOV te vergemaklik.
Ons is opreg dankbaar vir die samewerking
wat ons vanaf die skool en personeel kry. Ons wil graag al die onderwysers bedank vir hulle
toewyding aan die skool en ons kinders.
Dit bly ‘n groot taak, maar die OOV is gewillig en, as almal
saam hande vat, kan elke geleentheid suksesvol afgehandel word. Salomo skryf is Spreuke 11:17: “Die mens wat iets vir ‘n ander oor het, baat
self daarby ...”. Ons dank
die Here vir sy milde seëninge op die OOV se bedrywighede vanjaar.
Opgestel
deur Elna Faasen
25 Oktober
2011
|