
Die logo
is ontwerp deur Karin Beukes, ‘n derdejaar student in Bedryfskommunikasie
en Grafiese Ontwerp aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike
Hoër Onderwys.
Die goudgeel
son en horison simboliseer die oneindigheid
sonder grense.
Die donkerblou
driehoek simboliseer God, ons naaste en
onsself en die Christelike grondslag waarop
ons skool en onderwys berus.
Die groter
en kleiner figure in skakerings van blou dui op die
leerder en opvoeder, asook die leerder
en ouer.
Die hande
van die figure strek uit na die toekoms
en moontlikhede sonder grense
wat ons visie treffend uitbeeld.
Dit
is die strewe van Hoërskool Dirkie Uys om as ‘n opvoedkundige
sentrum van uitnemendheid in die Wes-Kaap bekend te staan. Die
geskiedenis en tradisies van die skool dra elke dag by tot die
verwesenliking van hierdie doel. Dit is vir ons belangrik om
jong volwassenes wat nie net ‘n bydrae kan lewer tot die
ontwikkeling van ons pragtige land nie, maar wat wel ‘n
wesenlike verskil kan maak, in die samelewing in te stuur. Dit
is ons doel hier by Hoërskool Dirkie Uys om die leiers
van môre te kweek.
Die
“skool sonder grense” visualiseer die missie
om elke leerder in staat te stel om optimaal te funksioneer.
Dit kry ons reg deur elke leerder se intellektuele, liggaamlike
en geestelike ontwikkeling optimaal te stimuleer.
Die
skool beskik verder oor uitstekende koshuisgeriewe vir seuns
en dogters. Dit stel leerders van oral oor die Wes-Kaap in staat
om onderrig te ontvang in ‘n plattelandse atmosfeer waar
goeie waardes, dissipline en norme deel vorm van die alledaagse
lewe.
Graag
wil ons u kind uitnooi om in 2006 te kom deel in hierdie uitnemendheid
en tradisie. Maak die leuse “môrelig roepingsplig”
deel van u lewe.
Vriendelike
groete
Daneil
J. Ross
SKOOLHOOF