Hoërskool Dirkie Uys - Interskole 2023
Wonder u ook soos baie ander persone hoe dit dan is dat ons interskole teen Hoërskool Jan van Riebeeck het, en nie teen een van ons buurdorpe nie?
25 jaar gelede het Dirkie Uys nie ‘n interskole gehad nie. Onderwysers het begin soek na ‘n geskikte skool, wat min of meer dieselfde hoeveelheid leerders en dieselfde sterkte spanne as ons het.
Augsburg Landbougimnasium in Clanwilliam het ingestem om ons interskole teenstanders te wees. In 2002 en 2003 het ons teen hulle deelgeneem. Een jaar weg en een jaar tuis. Alhoewel hulle rugbyspelers in 2002 en 2003 baie groter as Dirkie Uys se spelers was, het ons gewen. Ons het die netbal ook gewen. Daar was egter groot ongelukkigheid by Dirkie Uys aangesien Augsburg nie hokkie gehad het nie en ons hokkiespelers dus nie deel van interskole kon wees nie. Mnr. Johan Loubser was die hokkie-afrigter en hy het begin soek na ‘n ander skool wat al drie sportsoorte aanbied.
Dit was nie so maklik nie, want daar het nie ‘n skool bestaan wat dieselfde hoeveelheid leerders as ons het wat rugby, netbal en hokkiespanne het nie. Na baie telefoonoproepe,fakse en vergaderings het ons besluit om ‘n interskole met Jan van Riebeeck te probeer. In 2004 het ons die eerste interskole teen Jan van Riebeeck gehad. Dit is in Kaapstad by hulle gehou.
Oor die jare het hierdie ‘n baie lekker kompetisie tussen ons en Jan van Riebeeck geword. Een jaar wen ons en die volgende jaar hulle. Die stelsel waar elke span ‘n punt verdien as hulle wen het baie jare op gelyk gestaan net voor die 0.19A-rugby wedstryd, wat hierdie stryd jaarliks ‘n ongelooflike hoogtepunt maak. Wat die interskole anders maak as skole rondom ons, is dat Dirkie Uys en Jan van Riebeeck nie gedurende die seisoen teen mekaar speel nie. Die uitstappie elke tweede jaar Kaapstad toe is iets om na uit te sien, veral met hul rugbyveld so teen Tafelberg met ‘n mooi uitsig oor die hawe.