Hoërskool Dirkie Uys - Projekte

HDU Projekte
Projek: Tiere Sportpark

Die Tiere Sportpark is ‘n gesamentlik projek tussen LDU & HDU wat reeds ‘n gevestigde komitee het.

Die doel is die daarstel van topgehalte sportfasiliteite in die Swartland, aangesien ons skool nie tans oor ons eie sportfasiliteite beskik nie.

Met Moorreesburg as die mees sentrale dorp in die Swartland maak dit hierdie ontwikkeling nog meer aantreklik, aangesien dit nie net vir Moorreesburg (HDU & LDU) voordele inhou nie, maar vir die hele Swartland.

Met top fasiliteite sentraal geleë bied dit vir die hele Swartland die geleentheid om kompetisies, groot byeenkomste en selfs ligawedstryde te hou. Dit bied dus geleenthede om inkomste te genereer vir die instandhouding van die sportpark.

Dit bied ook vir Dirkie Uys die geleentheid om leerders vanuit omliggende dorpe deel te maak van die Tiere-familie met ons spog koshuise geleë reg langs die sportpark.

Kyk gerus na die video om ‘n voorstelling van die sportpark te sien en hoe die projek tot dusver gevorder het.

Wat moet volgende gebeur ter voorbereiding van die ontwikkeling:

  • Besproeiing – grawe van sloot. Lê van pyp in bousand, toemaak
  • “Rough finishing” – Skraper & sleepblok
  • Laser skraper
  • Aankoop van waterkanon of “pop-ups”
  • Bestaande munisipale waterpyp verlê.
  • Top soil & gras plant.

Wat wil ons graag bereik met die volgende fase van ontwikkeling:

  • Astrobaan met beligting
  • Omheining met hekke
  • Parkering
  • Rugbyveld met ligte
  • Badkamers

Kontak ons gerus indien u wil betrokke raak, of meer wil uitvind van die projek. 

Projek: Moorreesburg Warriors

 Ons skool het aan die begin van 2022 besluit om ‘n gemeenskapsprojek te begin waar ons klaargemaakte pannekoekmengsel aankoop van ‘n mamma, Sharisa in Durbanville, wat hierdie verkope as fondsinsameling vir haar Serebraal gestremde warrior begin het, om sy operasie wat in Amerika moes plaasvind moontlik te maak. Ons sou hierdie mengsel dan gebruik om ons eie fondsinsamelings te hou vir ons 4 Moorreesburg Warriors, Pierre Basson, Logan Wells, Kyla Streicher & Frederick Barnard. Elkeen van hierdie 4 warriors het hul eie unieke behoeftes en uitdagings en ons wou ‘n verskil maak, al is dit hoe klein. Hul is na aan ons hart aangesien hul ouers oud-Tiere is, of hul boeties/sussies tans in Dirkie Uys op skool is. Die wonderlike storie van hierdie projek is hoe dit ander organisasies aangeraak het om betrokke te raak. Ons het in Februarie afgeskop met ‘n stalletjie by die Moorrees-markie, waar ons pannekoek gebak het van die mengsel, en die bottels verkoop het. ‘n Dag voor die markie het ons 100 boksies druiwe as skenking gekry om ook by die markie te verkoop. Ons kon vir elke Warrior omtrent R500 insamel wat dalk nie na ‘n groot bedrag klink nie, maar elke Warrior-mamma was so dankbaar aangesien dit bydra tot die aankoop van medikasie, doeke of help betaal vir terapie. Lions-Moorreesburg het te hore gekom van ons projek en ons genader om hul Junie-pannekoekverkoping vir die Warriors te doen. Hulle het ‘n ongelooflike R12000 vir hulle ingesamel. Dit was gevolg deur ons skool se Junie-vakansie Shake ‘n Bake-verkoping waar ons 207 bottels van die pannekoekmengsel verkoop het. Die skool se Februarie markie en Junie verkoping het nie net ‘n verskil in ons 4 Warriors se lewens gemaak nie, maar het ons ook bygedra tot Marcus du Plessis van Durbanville se fondsinsameling om sy operasie in Amerika te ondersteun. Markus is in Junie Amerika toe en sy operasie was ‘n groot sukses.

Ons grootse verrassing was die oproep van Dankie Lottoland wat meer wou uitvind oor die Moorreesburg Warriors. Die Lottoland-span het ons 19 en 20 Julie kom besoek en die Warriors en hul families kom verras met ‘n skenking van R70 000 vir elke Warrior.

Ons het groot drome vir hierdie projek van ons. Hou die spasie dop vir inligting oor opkomende planne en fondsinsamelings wat ons ten bate van die Warriors-projek gaan loods.

Kontak ons gerus indien jul meer wil uitvind, of wil betrokke raak.

Projek: Alumni-plaatjie

Ons poog om elke oud-Tier se naam teen ons mure te verewig. Aangesien hierdie ‘n langtermyn projek is, gaan ons jaarliks gedurende November die afgelope jaar se Tiere-Alumni wat ‘n plaatjie gekoop het se naam in ‘n gelukkige trekking insluit om ‘n kans te staan om ‘n Tiere-geskenkpak ter waarde van R750 te wen.

Bestel vandag nog jou plaatjie, voltooi asb die vorm.


Raak deel van Dirkie Uys

Waar leerders sukses, waardes, vriendskap en trots ontwikkel.